Inwoners van Pretoria, Bronkhorstspruit en omliggende gebiede mag steeds nie kraanwater drink of vir kos, was of bad gebruik nie. Die Departement van Water en Sanitasie het bevestig dat water uit die Bronkhorstspruit-waterbehandelingsaanleg besmet is en maagkwale veroorsaak het. Meer as 408 gevalle van siekte is aangemeld.
Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het Norovirus, Campylobacter en Shigella in monsters van siek inwoners gevind. Die bevindinge stem ooreen met die departement se toetse, wat duidelik verhoogde E. coli-vlakke getoon het. Verdere toetse word gedoen om vas te stel of ander skadelike stowwe in die water is.
Die aanleg was van 24 September tot 14 Oktober sonder chloor na 'n verskaffingsprobleem. Volgens die Stad Tshwane het die verskaffer 'n prysverhoging van 400% gevra omdat sy vervaardiger pryse weens wêreldwye konflikte verhoog het. Wetgewing laat aanpassings van hoogstens 20% toe en die verhoging was dus nie aanvaarbaar nie, waarna onderhandelinge gevolg het en die verskaffer die voorraad skielik onttrek het.
Laer amptenare het nie die uitvoerende bestuur in kennis gestel nie en inwoners is nie betyds gewaarsku nie. Burgemeester Nasiphi Moya sê die bestuur het eers op Donderdag daarvan gehoor en kon toe eers optree. Sy het inwoners gevra om kraanwater net te gebruik om toilette te spoel totdat bevestig word dat dit veilig is.
Die aanleg neem water regstreeks uit die Bronkhorstspruitrivier, wat erg met riool besoedel is. Sonder chloor om mikro-organismes te vernietig, het patogene regstreeks na krane gevloei. Die chloorvoorraad is op Saterdag 17 Oktober hervat, maar die water bly onveilig vir drink, kook, was en bad.