Die minister van finansies lewer môre kort ná 14h00 die mediumtermynbegrotingsbeleidverklaring in die Parlement. Die minibegroting dien as riglyn vir die regering se fiskale strategie, vir bestedingstoekennings en vir die trajek van staatskuld te midde van wisselvallige wêreldmarkte.
Investec se tesourie ekonoom Tersia Jacobs sê markte kyk veral na fiskale volhoubaarheid en die Tesourie se geloofwaardigheid. Oor die afgelope vyf jaar is tekorte en skuld telkens opwaarts aangepas en mikpunte is selde gehaal. Verlede jaar is vir die eerste keer weer by die mikpunte gehou.
Die skuld tot BBP verhouding het verlede jaar na verwagting rondom 79 persent van BBP gepiek. Vanjaar behoort die verhouding effens te daal. Dit sal ’n belangrike sein wees dat skuld stabiliseer.
Inkomste lyk beter as die konserwatiewe begrotingsraming. Die styging in die goud en platinumprys was nie in die basisraming ingesluit nie. Jacobs raam dat inkomste vir die jaar tussen 20 miljard rand en 50 miljard rand hoër kan wees.
Aan die bestedingskant bly beheer noodsaaklik. Syfers vir die eerste vyf maande toon effens hoër besteding, maar dit bevestig nog nie ’n tendens nie. Baie departementele begrotings is skerp toegesny en meer inkomste kan maklik tot nuwe eise lei. Die Tesourie probeer onder meer spookwerkers en ondoeltreffende besteding aanspreek.
Openbare salarisse is in die tweede jaar van ’n driejaar ooreenkoms en styg vanjaar met 4 persent, gekoppel aan inflasie. Volgende jaar begin nuwe onderhandelings vir die 2028 en 2029 fiskale jaar. Terselfdertyd verskuif besteding geleidelik van lopende uitgawes na infrastruktuur.
Geld vir instansies soos Eskom en Transnet word nou aan spesifieke projekte gekoppel. Eskom is terug by winsgewendheid, terwyl Transnet nog sukkel. Jacobs verwag geen groot belastingveranderings môre nie, maar ’n kleiner tekort, dalende skuld en ’n sterker rand kan verligting bring teen hoë oliepryse en druk op huishoudings.