Die minister van finansies, Enoch Godongwana, lewer môre net na 14h00 sy mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring in die Parlement. Die mini-begroting sal die regering se fiskale strategie, bestedingstoekennings en die trajek van staatskuld uiteensit te midde van wisselvallige wêreldmarkte en stygende brandstofpryse.
Tesourie-ekonoom Tertia Jacobs van Investec sê markte kyk veral na die Tesourie se geloofwaardigheid. Ná vyf jaar waarin tekorte en skuld telkens hoër aangepas is, het die Tesourie verlede jaar vir die eerste keer by sy mikpunte gehou. Die skuld tot BBP-verhouding het teen sowat 79 persent van BBP gestabiliseer en kan vanjaar begin daal.
Aan die inkomstekant kan sterker metaalpryse inkomste met tussen 20 miljard rand en 50 miljard rand bo die begrotingsbasis lig. Goud en platinum was nie in die oorspronklike ramings verreken nie. Aan die bestedingskant is die eerste vyf maande se syfers effens hoër, maar Jacobs sê die Tesourie bly verbind tot sy bestedingsteikens.
Sy wys op die druk van die staat se salarisrekening. Suid-Afrika is in die tweede jaar van ’n driejaarooreenkoms met verhogings van minstens 4 persent, gekoppel aan inflasie. Die volgende onderhandelinge begin volgende jaar vir die 2028/29-boekjaar. Terselfdertyd verskuif besteding geleidelik van lopende uitgawes na infrastruktuur deur die begrotingsfasiliteit vir infrastruktuur, terwyl steun aan staatsondernemings nou aan spesifieke projekte gekoppel word.
Amelia Morgenrood van PSG Wealth Faerie Glen sê hoër oliepryse bly ’n risiko vir inflasie en rentekoerse. Brent het vroeër deur 110 dollar per vat gebreek en verhandel vanaand teen 106,62 dollar. Sowat 80 persent van vrag beweeg per pad en diesel kos nou dubbel wat dit ’n jaar gelede gekos het. ’n Sterker rand kan die druk versag.
Die JSE se indeks vir alle aandele het 1,3 persent hoër gesluit. Die dollar kos 16,41 rand en goud staan op 4 131,67 dollar.