Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Maandag 19 Oktober ’n geel vlak 4-waarskuwing vir erge donderstorms in die suidelike dele van KwaZulu-Natal uitgereik. Die waarskuwing is opgegradeer van geel vlak 2 tot geel vlak 4. Wydverspreide donderbuie word oor die provinsie verwag, met donderstorms oor die suidelike dele.
Volgens die Weerdiens kan die storms ernstig raak en met swaar reën, hael en oormatige weerlig gepaardgaan. Die kans op beduidende impak in dele van die provinsie bly laag, maar die moontlike gevolge is ernstig.
Moontlike impak sluit oorstroming van nedersettings, paaie en brûe in, asook skade aan eiendom en infrastruktuur. Vinnig vloeiende strome en diep water hou gevaar vir lewens in, terwyl gemeenskappe moontlik ontwrig kan word. Swak rytoestande word ook verwag.
Die Weerdiens het ook ’n geel vlak 2-waarskuwing vir skadelike winde in KwaZulu-Natal uitgereik. Sterk suidelike tot suidwestelike windvlae van tot 45 knope, sowat 83,3 km/h, word langs die binneland en kus vandag verwag en môreoggend langs die noordkus.
Die winde kan plaaslike ontwrigting by klein hawens en hawebedrywighede vir ’n kort tydperk veroorsaak en navigasie bemoeilik. Klein bote loop die risiko om water te skep en om te slaan.
Plaaslike ontwrigting van bedrywighede op strande is moontlik, asook plaaslike skade aan formele en informele nedersettings. Hoë voertuie kan op vatbare roetes probleme ondervind.