Suid-Afrika staan moontlik voor een van sy moeilikste landbousomers in jare, ondanks vroeë reën en gesonde damvlakke. Landbouminister Willie Okamp waarsku dat ’n kragtige El Nino uiterste hitte, min reën en ernstige druk op voedselproduksie kan bring. Hy vra vroeë waterbeperkings en doen ’n beroep op boere om plantbesluite en veetalle te heroorweeg.

In ’n onderhoud sê Okamp die presiese impak kan niemand met sekerheid voorspel nie en daarom moet die land vir die ergste voorberei en op ’n beter uitkoms hoop. Die verwagting is minder somerreën en hoër temperature, wat veral droëlandgewasse sal tref. Weiding sal ook ly, en swak somerreën sal bees-, skaap- en bokboere volgende winter onder druk plaas.

Volgens Okamp sal besproeiingsboere minder geraak word omdat damme tans vol is, maar die grootste deel van graan is droëland en staat op reën na planttyd. Hoë hitte kan jong plante beskadig. Die kernprobleem lê dus by gebiede sonder besproeiing.

Hy adviseer boere om randgrond wat in die verlede swak opgelewer het, vanjaar liewer nie te plant nie. By vee pleit hy vir beskerming van veld, wisselweiding en die verkoop van diere wat nie meer produseer nie, soos ou koeie en ooie sonder lammers. Dit beskerm weiding en die res van die kudde.

Okamp sê Suid-Afrika bly ’n netto uitvoerder van landbouprodukte en hy verwag geen voedseltekort nie, al kan pryse en langtermynbeskikbaarheid onder druk kom. Boere is gehard, ervare en plant meer droogtebestande saad en gewasse soos sorghum.