Calgro M3 het vir die ses maande tot einde Augustus ’n omset van R465 miljoen aangekondig. Die wesensverdienste het met 5 persent gedaal tot R76 miljoen. Uitvoerende hoof Ben Pierre Malherbe sê die mark vir bekostigbare behuising bly onder druk.
Malherbe sê hoër rentekoerse en stygende lewenskoste, onder meer die petrolprys, het kopers onder druk gehou. Die verhuringmark het vinniger herstel nadat rentekoerse gedraai het. Calgro M3 verhuur self geen eenhede nie, maar verkoop groot pakkette aan beleggers wat in verhuring spesialiseer.
Die groep rig hom op huishoudings met ’n gesamentlike inkomste van onder R38 000 per maand. Dit sluit gedeeltelik gesubsidieerde behuising soos maatskaplike behuising en eerste eienaarskap in. Die nuwe Bankenveld projek oorkant die Marlboro Gautrein stasie tussen Sandton en Waterfall moet eendag 20 000 wooneenhede lewer.
Calgro M3 bou tans grootmaat infrastruktuur soos paaie en waterreservoirs vir die eerste fase. Die paaie moet teen April volgende jaar voltooi wees, waarna die eerste sowat 5 900 huise ontwikkel kan word. Die groep sê sowat 1 400 huise is tans onder konstruksie of reeds voltooi.
Die gedenkparke het sterker gegroei as die residensiële besigheid en het ’n ander risikoprofiel omdat dit nie van rentekoerse afhang nie. Kopers betaal eenmalig en Calgro M3 behartig die onderhoud. ’n Gedeelte van die koopprys word ekstern belê om instandhouding op lang termyn te befonds.
Die intreevlak is sowat R10 000, terwyl familiegrafte tot R40 000 kos. Sowat 60 persent van verkope in nuwe parke is op ’n rentvrye afbetaling oor twee jaar. Malherbe sê die kontantvloei hieruit gee die groep geduld om groot projekte soos Bankenveld behoorlik te ontwikkel.