Bome in Afrika se groot Kongokom word vinniger afgekap terwyl ontbossing in ander tropiese streke stadiger raak. Sowat 2,43 miljoen hektaar tropiese woud is verlede jaar in Afrika verloor, wat 1,4% meer is as die jaar tevore.
Dit was in 2025 byna soveel soos die 2,54 miljoen hektaar wat in Latyns-Amerika en die Karibiese gebied, met die Amasone ingesluit, verloor is. Dit is die eerste keer sedert die Forest Declaration Assessment in 2015 met verslagdoening begin het dat die syfers so na aan mekaar is.
Wêreldwye ontbossing het verlede jaar met 15% gedaal teenoor 2024 tot net meer as 7 miljoen hektaar wat gekap of verbrand is. Die verlies in Latyns-Amerika en die Karibiese gebied het met byna ’n derde gedaal, terwyl tropiese Asië met 11% tot 1,6 miljoen hektaar gedaal het.
Die groep gee die skuld vir Afrika se hoogs blywende koers aan onbeheerde uitbreiding van kleinskaalse boerdery, min politieke wil en swak regulering. Nguiffo sê dekades van konflik, veral in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo, het tot onbeheerde houtkap bygedra.
Die Kongokom, wat groter as Indië is, strek oor 12 Afrikalande van Cross River in Nigerië tot die Skeurvallei in Oos-Afrika. Dit is die wêreld se tweede grootste tropiese woudgebied en sy grootste tropiese koolstofstoorplek.
Die plantegroei absorbeer 600 miljoen ton koolstofdioksied per jaar, gelyk aan Duitsland se uitlaatgasse. Die gebied tel onder die wêreld se rykste aan biodiversiteit met 10 000 plantspesies en woude wat tuiste is aan vier spesies mensape, asook woudolifante en okapi’s.