Ninety One, ’n wêreldwye batebestuurder van R3,96 triljoen met Suid-Afrikaanse oorsprong, wil infrastruktuurprojekte in Johannesburg finansieel steun om verval om te keer. Uitvoerende hoof Hendrik du Toit het dit in ’n onderhoud met Bloomberg Televisie gesê en bygevoeg dat die grootste stad in die land omgedraai moet word.

Hy het gesê die stad is swak bestuur en dat sy onderneming saam met vennote in sy netwerk planne maak om te help. Jare van politieke onstabiliteit en wanbestuur het dienslewering verswak en die stad met honderde miljoene dollar se skuld aan diensverskaffers gelaat.

Suid-Afrika hou op 4 November munisipale verkiesings om te bepaal watter partye gebiede soos Johannesburg sal bestuur. ’n Koalisie onder leiding van die African National Congress bestuur die stad tans, maar peilings wys die veteraan opposisiepolitikus Helen Zille as voorloper om burgemeester te word.

Du Toit het gewaarsku dat bestuurstalent moeilik behou sal word as water afgesny word en paaie vol slaggate is. Hy meen die stad kan betreklik vinnig omgedraai word, al sal dit ’n baie groot taak wees. Die nalatenskap van korrupsie en wanbestuur onder oudpresident Jacob Zuma weeg steeds op ’n ekonomie wat vir meer as ’n dekade minder as 1% per jaar gegroei het.

Die Reserwebank se jongste Kwartaalblad toon dat private vaste belegging in die drie maande tot Junie gedaal het, terwyl korporatiewe bankdeposito’s gegroei het. Du Toit wys op die private oplewing in hernubare energie en die modernisering van Pier 2 in Durban as modelle. Binnelandse geld sal eerste beweeg, waarna internasionale geld sal volg sodra die bewyse daar is.