Valterra Platinum nader ’n besluit wat die wêreld se grootste platinummyn in Suid-Afrika ondergronds kan neem. Die maatskappy met ’n markwaarde van sowat R338 miljard wil sy vlagskipbate Mogalakwena tussen Pretoria en die Zimbabwiese grens uitbrei namate ertsgrade in die oopgroewe daal en ontginning duurder word.
Die ondergrondse projek, bekend as Sandsloot, word al jare lank evalueer en staan nou op die drumpel van verwesenliking. Valterra beplan om later vanjaar met proefmynbou te begin en ’n finale beleggingsbesluit in 2027 te neem.
“Om ondergronds te gaan is vir ons die kostedoeltreffendste opsie”, het finansiële hoof Sayurie Naidoo in ’n onderhoud met Bloomberg Television gesê. ’n Groen lig vir Sandsloot sou die belangrikste stap wees sedert die afstigting van Anglo American in Junie 2025.
Mogalakwena het nog meer as agt dekades se reserwes en kan miljoene onse hoëgraadse erts ontsluit. Die uitvoerende hoof Craig Miller sê aanbod is nie ’n bron van kommer nie omdat die portefeulje vir baie dekades se platinumgroepmetale voorsiening maak.
Valterra besit drie bedrywighede in Suid-Afrika en is die land se grootste platinumgroepmetale-myner volgens waarde. Die toekoms van Mogalakwena is dus sentraal tot die groep se langtermynplanne.
Die grootste vraag na die metale kom uit katalisators wat skadelike uitlaatgasse uit petrol- en dieselvoertuie beperk en staan onder druk namate elektriese voertuie toeneem. Miller voer aan dat voorspellings oor batteryvoertuie telkens te optimisties was en wys op die volhoubaarheid van binnebrandenjins, die rol van hibriede en op langer termyn die moontlikheid van waterstofvervoer.
Naidoo sê die uitbou van kunsmatige intelligensie, met massiewe beleggings in datasentrums en gevorderde skyfies, bied bykomende potensiaal vir die metale.