Druk op Amerikaanse kunsmatige intelligensie aandele het die afgelope week skerp toegeneem nadat die SOX halfgeleierindeks op die Nasdaq in ses verhandelingsdae met 12% gedaal het. Die indeks kom van ’n baie hoë vlak en bly ’n belangrike barometer vir die KI handel.

Die indeks volg maatskappye wat rekenaarskyfies en halfgeleiers vervaardig en sluit groot name soos Nvidia, Broadcom, TSMC, Intel, Qualcomm, Micron en Applied Materials in. Saam verteenwoordig hulle die kern van die halfgeleierafdeling van die Nasdaq en ’n sleutelkomponent van kunsmatige intelligensie.

Op ’n grafiek langs die Nasdaq lyk die langtermynprestasie buitengewoon. Die indeks is oor die afgelope jaar sowat 70% hoër en oor vyf jaar sowat 250% hoër, terwyl die styging oor tien jaar naastenby 1 000% beloop. Daarmee het hy die breër Nasdaq duidelik verbygesteek.

Die onlangse daling word hoofsaaklik aan Amerikaanse rentekoerse en die koste van kapitaal gekoppel. Die KI maatskappye het vorentoe massiewe kapitaalbesteding nodig om groei te finansier, en hoër rentekoerse moet in toekomstige kontantvloei ingewerk word.

Daar is gevra of ’n kwart persentasiepunt honderde miljarde se wins kan uitwis en of vrees oor regulering van kunsmatige intelligensie ook ’n rol speel. Die teendeel is dat kapitaalkoste in Amerika swaar weeg omdat die mark aan vlakke van 2 en 3% oor die afgelope 20 jaar gewoond is.

Die mark prys reeds ’n verdere verhoging van sowat ’n halwe persentasiepunt vanjaar in, met moontlik nog ’n kwart en nog ’n kwart daarná. As finansieringskoste van 3% tot 4% styg, beteken dit ’n toename van 33% en dit is ’n groot verskil vir beleggingsbesluite.