Onafhanklike ondersoekers vrees die toevoerkettingaanval op kripto-hardewarebeursies van Ledger is veel erger as aanvanklik vermoed. Die verlies word op meer as 90 miljoen dollar oftewel R1,48 miljard oor honderde kripto-adresse geraam. Gebruikers het sedert Vrydag verliese aangemeld nadat spioenasieskyfies in sommige toestelle ontdek is.

Die ontdekking is gedoen deur Mark Karpelès, voormalige hoof van die bitcoinbeurs Mt. Gox. Hy het maande gelede ’n Ledger-toestel op die lughawe van Singapoer gekoop en dit onlangs oopgemaak. Binne het hy ’n skyfie gevind wat onder die skerm se vulling versteek was. Die skyfie lees glo die geheime herstelfrase van die skerm af en stuur dit aan misdadigers wat die beursie later leegmaak.

Ledger SAS het Dinsdag gesê hy hersien sy verkoopsbeleid en prosesse. Die maatskappy het herverkopers in Suidoos-Asië en Hongkong gevra om verkope op te skort. Tegnologiehoof Charles Guillemet het gesê Ledger evalueer ook sy beskerming teen peutery en het gebruikers gevra om verdagte toestelle vir ondersoek in te stuur.

Hoofuitvoerende beampte Pascal Gauthier het gesê peutery van die toevoerketting is ’n risiko vir die bedryf en dat kontrolemaatreëls vir direkte verkope en herverkopers hersien word. Ander vervaardigers reageer ook. OneKey en Trezor het sommige herverkoperverhoudinge gestop of hersien, volgens plasings op sosiale media.

OneKey se hoof Yishi Wang het gesê die veranderinge kan ’n hele jaar se inkomste kos. Sommige verliese is verbind aan toestelle van die Maleisiese herverkoper CryptoBilis. Die raming kom uit navorsing wat Galaxy Digital Vrydag gepubliseer het.

Ledger het gesê hy ondersoek berigte oor gepeuterde toestelle buite Maleisië, onder meer by die Duitse kleinhandelaar MediaMarkt, maar het nog nie die getal slagoffers of verliese bevestig nie. MediaMarktSaturn het alle produkte van die vervaardiger uit winkels en aanlyn platforms verwyder en is in gesprek met die vervaardiger.