Die regering het R8,9 miljard toegeken aan die Ore Line Restoration Programme om die 861 kilometer lange ysterertslyn tussen Sishen en Saldanha teen 2030 te herstel. Die korridor verbind die myne in Sishen in die Noord-Kaap direk met die hawe van Saldanha in die Wes-Kaap. Jare se swaar gebruik het spore, seiningstelsels, lokomotiewe en trokke verswak en uitvoerbetroubaarheid ondermyn.
Ystererts, die belangrikste grondstof vir staal, is een van Suid-Afrika se grootste minerale uitvoerprodukte. In 2025 het die land R110 miljard se ystererts uitgevoer en dit was die vyfde grootste uitvoerproduk. In Julie vanjaar alleen is R8,26 miljard se ystererts uitgevoer.
Die program behels die hernuwing van spore, die opgradering van elektriese en seiningstelsels en die herstel van rollende materiaal. Minister van Vervoer Barbara Creecy sê as die korridor goed presteer, kan myne hulle kommoditeite doeltreffend vervoer, kan uitvoerders internasionale markte bereik en kan hawens doeltreffender werk. Sy sê dit sal Suid-Afrika se posisie as betroubare handelsvennoot versterk.
Die Transnet National Ports Authority begin ook die Bulk Power Upgrade Project by Saldanha met n belegging van sowat R750 miljoen. Die projek sal kragvoorsiening verbeter, die bedryf van n derde stortbak moontlik maak en hoër uitvoervolumes ondersteun. Die program moet ook streeksekonomieë stimuleer deur werk te skep.
Vir die Oktober-intervensie is sowat 1 300 vaste termynkontrakte geskep, met meer as 600 indirekte geleenthede verwag. Die regering het R3,4 miljard deur die Budget Facility for Infrastructure vir die huidige en volgende boekjaar bewillig. Die Transnet Rail Infrastructure Manager belê sowat R2,2 miljard in herstelonderhoud, insluitend R1,5 miljard uit daardie bewillig.
Transnet het R1,47 miljard in rollende materiaal belê, met R752,3 miljoen vir trokke en R721,9 miljoen vir lokomotiewe. N Soortgelyke bedrag word volgende boekjaar bewillig. Private treindienste kry toegang tot die netwerk, terwyl infrastruktuur in staatsbesit bly.