'n Artikel op KryptoNews beweer die kunsmatige intelligensie toepassing Claude voorspel dat Bitcoin vroeg volgende jaar van rondom $85 000 tot tussen $500 000 en $1 000 000 kan styg. Die bewering is in RSG Geldsake met Moneyweb bespreek, waar gasheer Rikus van der Kerk en Karel Jager van Sixpence sterk waarsku teen sulke voorspellings.
Van der Kerk sê hy kry 'n rilling wanneer hy sulke eise sien, omdat geen betroubare inligting die waarde van Bitcoin kan bepaal nie. Hy beskryf die prys as suiwer vraag en aanbod, sonder die grondslag waarop gewone bates gewaardeer word.
Jager sê hy het die artikel gesien, maar koppel geen waarde daaraan nie. Hy beklemtoon dat dit nie die siening van Anthropic of 'n ander groot maatskappy is nie, maar die teks van 'n model wat opdragte uitvoer.
Enige persoon kan Claude instellings gee en 'n treffende antwoord ontvang, sê hy. Die artikel laat dit klink asof 'n groot Amerikaanse maatskappy daardie opinie uitgespreek het, terwyl dit in werklikheid 'n gegenereerde reaksie op 'n spesifieke versoek is.
Albei beklemtoon dat kunsmatige intelligensie finansies en kriptogeld verander, maar dat beleggers geen groot finansiële besluit op 'n KI mening moet grond nie. Sensasionele voorspellings vind maklik hul pad na Facebook en ander sosiale platforms, waar dit rykdom belowe en dikwels in trane eindig.
Jager waarsku teen die misleidende persepsie dat kunsmatige intelligensie altyd reg is. Luisteraars moet versigtig bly, sensasie vermy en op betroubare finansiële bronne steun voordat hulle in kriptogeld belê.