Kaapstad steier nie op ’n tweede Dag Zero af nie, sê die burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, dr. Zahid Badroodien. Hy sê die stad se nuwe waterprogram het beduidende vordering gemaak en die huidige voorraad is stabiel vir die komende somer. Die afgelope winter was droër as gewoonlik, en daarom vra die stad nou verantwoordelike gebruik.
’n Sleuteldeel van die plan is die vierwaterskema waarvoor die versoek om voorstelle sowat twee weke gelede na die volgende fase beweeg het. Dié skema moet teen 2030 sowat 100 miljoen liter water per dag bykomend lewer. Ontsouting is vertraag, maar volgens Badroodien is dit nie weens swak beplanning deur die stad nie.
Hy sê die Nasionale Hawegesag het die stad onverwags in die steek gelaat. Grondwateronttrekking en bestuurde akwiforaanvulling lewer reeds drinkbare water en sal nog meer lewer. Die verwydering van indringerplante bespaar tot 38 miljoen liter per dag omdat dié plante nie meer water uit damme en opvanggebiede trek nie.
Kaapstad is net een gebruiker van die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel, en Badroodien waarsku dat beperkings alleen min uitwerking op damvlakke sal hê. Hy sê dit sal onbillik wees as net Kaapstad se inwoners hoër tariewe betaal terwyl ander munisipaliteite nie saamwerk nie.
Buurmunisipaliteite het volgens hom reeds begin om waterbesparing te bevorder. Die grootste sorg is die landbousektor wat baie damwater gebruik en veral in die somer groot volumes nodig het.
Badroodien kritiseer die nasionale Departement van Water en Sanitasie omdat besluite oor beperkings uitgestel word tot die einde van Oktober. Die burgemeester het sowat ’n maand gelede aan die minister geskryf om leierskap te vra, maar daar was nog geen antwoord nie.