Kaapstad staar nie nóg ’n Dag Zero in die gesig nie, sê burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie Zahid Badrodien. Die stad se watervoorraad is tans stabiel en voldoende vir die komende somer. Damme in die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel kan sowat twee jaar lank hou, soos tydens die vorige droogte gesien is.

Tog is dié winter droër as gewoonlik en die stad is op waaksaamheid. Badrodien vra inwoners om water verantwoordelik en net vir noodsaaklike gebruik aan te wend. Die stad reik ook proaktief uit na buurmunisipaliteite en die departement van water en sanitasie.

Die Nuwe Waterprogram vorder goed, sê hy. Sowat twee weke gelede het die stad die volgende fase van die aansoek om voorstelle vir ’n nuwe waterskema betree wat teen 2030 sowat 100 miljoen liter per dag moet lewer. Grondwateronttrekking en bestuurde akwiferherlading lewer reeds drinkbare water, met meer op pad.

Die verwydering van indringerplante bespaar reeds tot 38 miljoen liter water per dag omdat minder water uit damme en opvanggebiede onttrek word. Ontsouting is vertraag, maar volgens Badroodien nie weens beplanningsfoute deur die stad nie, maar weens ’n terugslae by die nasionale haweowerheid.

Beperkings kan volgens hom nie net deur Kaapstad ingestel word nie omdat die stad slegs een gebruiker van die gesamentlike stelsel is. Indien ander munisipaliteite nie saamwerk nie, sal die uitwerking op die totale damvolume gering wees. Tog sal Kaapstad se inwoners die knyp deur nuwe tariewe voel wat water duurder maak namate verbruik styg.

Buurmunisipaliteite is volgens gesprekke in lyn, maar die nasionale departement sloer, sê Badrodien. Die departement wil wag tot die einde van die hidrologiese jaar teen einde Oktober voordat modelle en voorspellings oor El Niño gemaak word. Die burgemeester het sowat drie weke tot ’n maand gelede aan die minister geskryf en wag steeds op ’n antwoord.