Die Wes-Kaapse regering gaan weer die Wes-Kaapse Hooggeregshof nader oor die grootskaalse besetting van Knoflokraal langs die N2 tussen Grabouw en Botrivier. Die grond beslaan sowat 2 000 hektaar staatsgrond wat voorheen vir bosbou geoormerk was.
Die besetting het in 2020 tydens die Covid-19-pandemie begin toe n groep mense wat hulleself as afstammelinge van die Khoi en San identifiseer die terrein betrek het. Teen Mei 2021 was daar reeds sowat 380 strukture op die grond.
Vandag woon daar na raming tussen 15 000 en 20 000 mense op Knoflokraal. Dit is nie net n nedersetting van sinkhuisies nie maar sluit groot drie en vierslaapkamerhuise in.
Daar is ook boerderybesighede en verskeie ondernemings op die grond bedrywig. Volgens berigte sluit dit restaurante, vakansiehuise en n gastehuis in wat deur n platform bemark word.
Die minister van infrastruktuur in die Wes-Kaap, Tertius Simmers, sê daar was in 30 jaar nog nooit n formele grondeis oor Knoflokraal ingedien nie. Hy sê dit geld vir die provinsiale rekords sowel as vir die nasionale departement wat met grondhervorming belas is.
Simmers sê die besetting is in 2020 voor die plaaslike regeringsverkiesing deur n spesifieke politieke party aangehits onder die vaandel van Khoi- en San-grond. Volgens hom het die situasie sedertdien buite die beheer van daardie party gegroei en die regering het reeds verskeie hofstappe gedoen.