Die getal melkboere in Suid-Afrika het in tien jaar amper gehalveer van 1 683 in 2016 tot net 882 vandag. Dit het Fanie Ferreira, uitvoerende hoof van die Melkprodusente-organisasie, aan RSG Geldsake gesê. Hy het gepraat ná ’n paneelgesprek van Farmers Weekly waar boere ’n donker prentjie van finansiële volhoubaarheid geskets het.
Ferreira sê ekonomie van skaal is die grootste rede vir die afname. Kleiner boere kon nie meer oorleef nie omdat die kostestruktuur in die primêre bedryf te moeilik geword het. Baie produksie het na die kusgebiede verskuif waar dit goedkoper is, terwyl binnelandse boere kleiner gebly het en met vervalle paaie en moeilike melkaflaaie geworstel het.
Die verskil tussen plaasprys en winkelprys bly skerp. Ferreira sê boere ontvang tussen R7,20 en R7,50 per liter, afhangend van vastestowwe, terwyl een liter melk in die winkel sowat R22 kos en twee liter tussen R32 en R33. Die res word in die verskaffingsketting bygevoeg deur verwerkers en kleinhandelaars.
Verwerking en vervoer is duur. Bykans 90 persent van alle melk word in die kusgebiede geproduseer, maar sowat 70 persent word in die groter Gauteng gebied verbruik. Daardie melk moet elke dag sowat 1 000 km ry om die mark te bereik, terwyl verpakking, elektrisiteit en diesel aanhou styg.
Insetkoste het die afgelope jaar vinnig gestyg. Diesel het met 67 persent gestyg en voerpryse, gemeet aan mielies en soja, het met 15,5 persent toegeneem. In 2016 kon 1,5 liter melk een liter diesel koop, maar in 2026 is 3,6 liter melk daarvoor nodig.
Dieselfde druk wys by elektrisiteit. Een liter melk kon in 2016 sowat 9,7 kWh koop, maar vandag koop dit net 3,1 kWh. Ferreira sê boere staan ook voor vervoerkoste, kunsmis, arbeid en die ergste dieregesondheidskrisis wat die bedryf nog gesien het weens bek en klouseer.