KwaZulu-Natal het sy 2026/27 multiplantseisoen op 3 Oktober in KwaGuqu in die Dlebe gebied van Ulundi van stapel gestuur. Premier Thamsanqa Ntuli en LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling Thembeni kaMadlopha-Mthethwa het die program gelei. Die program wil onderbenutte landbougrond ontsluit, voedselsekerheid versterk en kleinboere na kommersiële produksie begelei.

Die bekendstelling het sterk klem gelê op die verwagte El Niño. Hoër temperature en reënval onder normaal word voorspel, met minder weiding en hitstestremming by vee. LUR KaMadlopha-Mthethwa het gewaarsku dat die seisoen moeilik sal wees vir droëlandgewasse soos mielies, droëbone en sojabone.

Hoërisikogebiede sluit Amajuba, Zululand, uMkhanyakude, uThukela, uMzinyathi, uMgungundlovu en dele van Harry Gwala in. Dié gebiede produseer groot volumes stapelgewasse wat grootliks van reën afhanklik is. Onreëlmatige vroeë somerreën kan opbrengste skerp verlaag en druk op water en voerkoste verhoog.

In KwaGuqu is grondmonsters reeds geneem van 50ha wat vir aanplanting geoormerk is. Dit behels 30ha in KwaGuqu vir 34 begunstigdes en 20ha in eMkhiweni vir 32 begunstigdes. Kunsmis word eers na die gronduitslae versprei sodat insette by grondbehoeftes pas.

Die departement het reeds 35ha met sewe trekkers voorberei. Meganisasie word versterk deur 57 Expanded Public Works Programme trekkerbestuurders, waarvan 25 tans opleiding ontvang. Landboukundiges raam dat boere onder optimale toestande tot 4,7t mielies per hektaar onder droëland kan oes.

Die afvaardiging het die Kwadidwayini Koöperasie besoek wat deur 31 vroue gelei word, asook die 2ha Vukuzakhe Koöperasie waar 20 vroue uie, kool, aartappels en tamaties verbou. Laasgenoemde projek moet na 5ha uitbrei met omheining, besproeiing, insette en marktoegang. By KwaNqindi in Dlebe is ook ’n nuwe dipbak oorhandig om dieregesondheid nader aan gemeenskappe te bring.