Die JSE se indeks van alle aandele het om 17h00 0,6% stewiger gesluit op 109 408 punte. Die nywerheidsindeks was 0,5% hoër, die finansiële indeks 1,3% stewiger en die hulpbronindeks 0,3% hoër. Amerikaanse en Europese beurse was in dieselfde sessie rooi, met die Dow Jones 0,3% laer en die S&P 500 en Nasdaq elk 0,2% swakker.
Clicks was die uitblinker en het 9,5% hoër gesluit na nuwe ontleding oor die prysstryd met Dis-Chem. Valterra het 4,5% gewen, terwyl Thungela en Dis-Chem elk 1,5% hoër gesluit het. Impala, Telkom en Stadio het elk 2,5% gestyg en MultiChoice se Canal Plus-eenheid was 2,4% stewiger.
Chantal Marx van FNB Wealth and Investments sê plaaslike en internasionale beleggers loop op eiers te midde van wisselvalligheid rondom Amerikaanse maatskappyresultate. Sy sê Clicks het sy verkryging hersien en pryse skerp bestuur sonder oënskynlike margedruk. Buitelandse belangstelling het teruggekeer nadat die aandeel vanjaar swaar verloor het.
In Oktober 2020 het beleggers van die VSA amper 40% van Clicks besit, teenoor sowat 20% tans. Clicks verhandel op sowat 15 keer verdienste en Dis-Chem op sowat 23 keer. Clicks is sowat 28% laer sedert die begin van die jaar en Dis-Chem sowat 21% laer.
Aan die verloorkant het Bytes 4,2% laer gesluit en Alphamin 3,3% verloor. BHP was 2,5% swakker, terwyl Ninety One, Aspen en AngloGold het elk 1,7% gedaal.
Die rand het teen R16,50 teen die dollar verhandel en goud teen 4 160 dollar per fynons. Brent ruolie was 106,10 dollar per vat, bitcoin 83 460 dollar en die tienjaarstaatseffek op 8,92%. Mynbouproduksie vir Augustus was 12,7% laer as n jaar gelede.