Die Afrika-unie het verlede week die Africa Credit Rating Agency, bekend as AfCRA, amptelik bekendgestel. Tussentydse hoofuitvoerende beampte dr. Sifiso Falala het op SAfm Market Update met Jimmy Moyaha oor die doel gepraat. Die agentskap moet ondersoek waarom Afrika-state as kredietonwaardig beskou word en waarom lenings vir hulle so duur is.

Volgens Falala gaan geld wat vir ontwikkeling bestem is nou grootliks aan rentebetalings eerder as aan die skuld self. AfCRA moet die oorsaaklike verband tussen graderings en die werklike vermoë van state om skuld terug te betaal, ontleed. Die Afrika-unie het die agentskap opdrag gegee om risiko deegliker te verstaan.

Falala wys op die formule van die drie groot internasionale agentskappe, Fitch, Standard and Poor’s en Moody’s, wat tussen agt en nege pilare gebruik. Twee pilare kniehalter Afrika-state dikwels, naamlik die stewigheid van instellings soos onafhanklike regstelsels asook skuld teen bruto binnelandse produk. Sowat 23 lande is onlangs glad nie gegradeer nie, deels omdat data ontbreek.

Afrika se ekonomieë is oor die algemeen klein. Die vasteland se totale bruto binnelandse produk is sowat $3,3 triljoen, wat minder is as die markwaarde van ’n enkele maatskappy soos Nvidia – ’n persepsie wat die vermoë om skuld te betaal verswak. Falala sê vroeë navorsing toon geen direkte verband tussen instellings of skuldverhoudings en terugbetaling nie.

Oor geloofwaardigheid sê Falala beleggers verder van die bestemming is gewoonlik versigtiger oor risiko. Hy wys op nuwe geldbronne soos die Nuwe Ontwikkelingsbank van Brics, waarby Suid-Afrika besig is om $2 miljard vir munisipale infrastruktuur te leen. Op die vasteland kan sowat $4 triljoen in likiede befondsing, onder meer uit pensioenfondse, eerder vir belegging gebruik word.