Kumulatiewe foute in inkomstevooruitskattings oor 15 jaar het die staat meer as R3 biljoen aan onverwagte skulddienskoste tussen 2011 en 2026 gekos. Dit blyk uit ontleding deur Codera Analytics onder die SA-TIED-program. Die studie is deur Jan-Hendrik Pretorius, Lisa-Cheree Martin en Daan Steenkamp geskryf.
Volgens die skrywers het skulddienskoste sedert die 2008/09-krisis n sentrale rol in fiskale glip gespeel. Skuld en skulddienskoste het gestyg, hoewel die effektiewe rentekoers redelik bestendig gebly het. Weens te hoë skuldramings het skulddienskoste sedert 2012/13 deurlopend verwagtings oortref.
Die Reserwebank het verlede jaar aangedui dat skulddienskoste tussen 2008/09 en 2024/25 met gemiddeld 13,1 persent per jaar gestyg het. Dit het van 2 persent tot 5 persent van die BBP toegeneem. Buiten 2020/21, toe pandemie-oordragte skerp gestyg het, was skulddienskoste die vernaamste drywer van die verswakkende begrotingsaldo.
Steun aan staatsondernemings het sedert die krisis sterk tot begrotingsglip bygedra. Die grootste deel het aan Eskom gegaan, met alle vorme van steun van byna R500 miljard sedert 2008/09. SA-TIED is in 2017 begin en betrek die Nasionale Tesourie, die SAID en die Verenigde Nasies se navorsingsinstituut UNU-WIDER.
Bruto staatskuld sal na verwagting R6,33 biljoen aan die einde van 2026/27 beloop, of 77,3 persent van die BBP. Skulddienskoste vir vanjaar sal na verwagting R432,4 miljard bereik, wat R1,18 miljard per dag is. Minister Enoch Godongwana het dit in antwoord op n vraag van Emerald Madlala in die parlement bekendgemaak.
Godongwana sê fiskale konsolidasie, verbandruiltransaksies, goedkoper multilaterale befondsing en die gebruik van reserwes en kontantsaldo’s moet leenkoste verlaag. Hy het skuldbestuur as prioriteit gestel en sê skuld stabiliseer in 2025/26 op 78,9 persent van die BBP en daal tot 77,3 persent in 2026/27 en 76,5 persent teen 2028/29. Skulddienskoste sal na verwagting van 21,3 persent tot 20,2 persent van inkomste daal.