Die Mededingingskommissie het die Mededingingstribunaal genader om Premier Foods se oorname van Rhodes Food van bykans 6 miljard rand om te keer. Die samesmelting is in Maart vanjaar goedgekeur. Die geskil volg nadat Premier enkele maande later besluit het om Rhodes se vrugteinmaakfabriek in Tulbagh in die Wes-Kaap te sluit. As die tribunaal die aansoek goedkeur, sal dit die eerste keer wees dat ’n goedgekeurde samesmelting in Suid-Afrika omgekeer word.

Die vakbond Sakto het ’n klag ingedien waarna die kommissie ondersoek ingestel het na moontlike stryd met die goedkeuringsvoorwaardes. Premier ontken enige oortreding en sê geen besluit of voorneme om die fabriek te sluit het tydens die samesmeltingsproses bestaan nie. Die groep sê die besluit is eers later geneem nadat marktoestande vir ingemaakte vrugte skerp verswak het.

Adjunkkommissaris Tamara Mokhokha sê vakbonde het tydens die aanvanklike ondersoek gewaarsku dat partye dikwels sluitings eers ná goedkeuring aankondig. Die kommissie het uitdruklik gevra of beplande of voorsienbare integrasie, sluiting of konsolidasie verwag word. Die antwoord was dat geen sodanige stappe beoog word nie. Die latere ondersoek het egter ’n strategiese opsie rondom sluiting gevind wat volgens die kommissie openbaar gemaak moes gewees het.

Die sluiting het moontlike mededingingsgevolge omdat die bedryf sterk gekonsentreerd is en ’n monopolie kan ontstaan. Werkverliese en kleiner marktoegang vir boere is ook ter sprake. Die kommissie vra eerstens dat die transaksie omgekeer word. As alternatief kan die samesmelting met die volle feite heroorweeg word met voorwaardes wat die fabriek oophou of verligting aan verskaffers bied.

Mokhokha bevraagteken of vrywillige skeidingspakkette werklik vrywillig is wanneer ’n fabriek sluit. Sy verwys na die Langeberg-fabriek waar Tiger Brands ingestem het om die aanleg twaalf maande oop te hou terwyl ’n alternatiewe koper gesoek is. Ontleder Theo Vorster waarsku intussen dat sterk ingryping beleggersvertroue kan skaad.