Boxer het op Maandag 12 Oktober aangekondig dat uitvoerende hoof Marek Masojada aan die einde van die huidige boekjaar uittree ná 33 jaar by die maatskappy. Justin Galloway is met onmiddellike effek as aangewese uitvoerende hoof aangestel en neem op 1 Maart 2027 oor.
Volgens Boxer sal Masojada en Galloway die volgende vyf maande nou saamwerk om ’n gladde oorgang te verseker. Die uittrede vorm deel van die beplande opvolgproses wat met die JSE-notering in November 2024 vasgestel is.
Masojada lei Boxer sedert 2024 en het die ontbondeling van Pick n Pay en die aanvanklike openbare aanbod op die JSE oorsien. Hy het in 1993 aangesluit toe Boxer vyf winkels en ’n jaaromset van R120 miljoen gehad het. Vandag het die groep 600 winkels en is dit Suid-Afrika se voorste afslagkleinhandelaar.
Hy was 25 jaar lank hoof van finansies voordat hy in 2019 besturende uitvoerende beampte geword het. “Ek is ongelooflik trots op hoe Boxer gegroei het,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat hy vertroue het dat Boxer sy momentum onder Galloway sal behou.
Galloway, ’n geoktrooieerde rekenmeester, is sedert 2012 by Boxer en sedert 2020 in die groep se uitvoerende bestuur. Hy was hoofbestuurder van die Punch-afdeling en later voorsieningskettingbestuurder, en het tussen 2014 en 2020 gehelp om die afslagformaat te ontwikkel.