Boxer het in die ses maande tot einde Augustus sy omset met 6,3 persent tot R24,1 miljard verhoog. Die wesenswins het met 9 persent tot R565 miljoen gegroei en die direksie het ’n dividend van 50 sent per aandeel verklaar, 10 persent hoër as verlede jaar.

Die groep, wat in 1977 in Empangeni in KwaZulu-Natal gestig is, bedryf nou 600 winkels in Suid-Afrika en Eswatini. Dit fokus hoofsaaklik op die middel tot laer inkomstemark. Pick n Pay het Boxer in 2002 gekoop en in November 2024 afsonderlik op die JSE genoteer, maar behou sowat 65 persent.

Boxer se markwaarde is tans R37 miljard, amper drie keer Pick n Pay s’n van sowat R14,5 miljard. Uitvoerende hoof Marek Mada sê die groep het in die halfjaar 24 nuwe winkels geopen, naamlik nege superwinkels en 15 drankwinkels. Vir die volle jaar mik hy na 60 nuwe winkels, saamgestel uit 25 supermarkte en 35 drankwinkels.

Volgens Mada glo Boxer daar is nog baie oop ruimtes waar hy sy aanbod na meer gemeenskappe kan neem. Baie nuwe winkels open as tweede anker in bestaande winkelsentrums, nadat eksklusiwiteitsklousules begin wegval. Ander open in nuwe ontwikkelings en onderbediende gebiede of in dorpe waar Boxer nog nie verteenwoordig is nie.

Die handelsmarge was 4,2 persent in die halfjaar, wat beteken sowat vier sent wins uit elke rand se verkope. Mada sê ’n groter deel van die wins kom gewoonlik in die tweede helfte, dus behoort dié syfer nog te styg. Die model bly op volume gerig, met skerp fokus op klein marges en lae koste.