Solidariteit het gewaarsku dat verswakte handelsbetrekkinge met die Verenigde State meer as 576 000 Suid-Afrikaanse werksgeleenthede in gevaar stel. Volgens die Solidariteit Navorsingsinstituut ondersteun uitvoere na Amerika sowat 576 000 poste landwyd. Ongeveer die helfte is in sektore wat direk voordeel trek uit die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, bekend as AGOA.
Suid-Afrika het in 2024 goedere ter waarde van R156,8 miljard na die Verenigde State uitgevoer. Landbou alleen het produkte van meer as R10 miljard na dié mark gestuur. Baie landelike gemeenskappe is vir hul belangrikste ekonomiese bedrywigheid van uitvoermarkte afhanklik. Solidariteit sê verlies aan AGOA voordele sal mededingendheid verswak, uitvoerinkomste verlaag en kwesbare gemeenskappe tref.
Die motorbedryf voel reeds die druk van Amerikaanse tariewe. Ná die instelling van 'n algemene tarief verlede jaar is net 6 500 voertuie in 2025 na Amerika uitgevoer, vergeleke met 25 500 die jaar tevore. Washington hersien tans die lys van AGOA deelnemers en die finale lys word op 1 November aangekondig. Suid-Afrika kan van die lys geskrap word weens die gespanne verhouding.
Ekonomiese navorser Theuns Du Buisson sê die regering stel besighede en gemeenskappe deur politieke onversetlikheid in gevaar. Hy sê een uit elke 30 huishoudings trek voordeel uit uitvoere na Amerika en Amerika verteenwoordig 27 persent van die wêreldwye verbruikersmark. Vir baie van hierdie uitvoere bestaan daar geen ander mark wat Amerika kan vervang nie.
Solidariteit is al vier jaar by die Amerikaanse regering oor AGOA betrokke en het voorstelle oor rasgebaseerde beleid ingedien, onder meer 'n geleidelike uitfasering teen 2030. Die verhouding het versleg oor noue bande met Iran, Rusland en China, asook oor swart ekonomiese bemagtiging en onteiening sonder vergoeding. Solidariteit sê stellings soos dié van minister Ronald Lamola teenoor ambassadeur Leo Brent Bozell III verskerp spanning wat werkers sal tref.