Suid-Afrika, Namibië en Botswana kan bek-en-klouseer nie afsonderlik bekamp nie. Sterk samewerking en voortdurende kommunikasie tussen die drie lande is noodsaaklik. Dit was die boodskap van minister van Landbou Willie Aucamp vroeër vandeesweek op ’n openbare vergadering op Bothaville in die Vrystaat.

Volgens Aucamp het Suid-Afrika vanjaar reeds 50 000 entstowwe aan Namibië, Eswatini en Lesotho beskikbaar gestel. Hy sê dit is teenproduktief om die siekte in isolasie te bestry. Sy departement bly in noue kontak met sy eweknieë in Namibië en Botswana.

Invoer van rooivleis uit Botswana en Namibië bly opgeskort. Die grense is vir uitvoer gesluit en die beweging van beeste is gestaak. Die hervatting van invoer hang van ooreenkomste oor biosekuriteitsprotokolle af. Suid-Afrika het reeds protokolle aan Botswana voorgelê en wag op ’n amptelike reaksie.

Kompartementering van bek-en-klouseervrye sones in Botswana is een opsie om invoer te hervat. Aucamp sê hy is in voortdurende gesprek met sy Namibiese eweknie. Suid-Afrika bly verbind om te help waar hy kan.

Aucamp sê Suid-Afrika vorder in die stryd danksy die privaatsektor se deelname aan die vervaardiging en verspreiding van entstowwe. Die Landbounavorsingsraad vervaardig tans 20 000 entstowwe per maand. Tog is miljoene dosisse nodig om die nasionale beeskudde van 15,2 miljoen doeltreffend in te ent.

Hy het die raad se besluit verwelkom om sy intellektuele eiendom oor entstofvervaardiging aan die privaatsektor beskikbaar te stel. Tantieme wat die raad so verdien, sal uitsluitlik vir entstofproduksie geoormerk word. Hy het ook teen verdeeldheid gewaarsku en gesê rolspelers moet met mekaar praat en nie oor mekaar nie.