Die hooggeregshof in Pretoria het die besluit van die minister van handel, nywerheid en mededinging om die regsektor se BEE kode te publiseer tersyde gestel. Die hof het bevind die minister het versuim om sy eie onafhanklike oordeel uit te oefen voordat hy die kode in September 2024 goedgekeur het. Die saak is na die minister terugverwys vir heroorweging.
Professor Hugo Pienaar, direkteur van Thomson Wilks, sê die uitspraak het ernstige gevolge vir alle ministers wat sektorkodes uitreik. Hy sê dieselfde vrae sal oor ander kodes gevra word oor diskresie, die inligting waarop besluite berus en of die korrekte proses gevolg is. Die applikante het nie die beginsel van transformasie aangeval nie, maar die wyse waarop die kode tot stand gekom het.
Volgens Pienaar het die minister van die generiese kode na ’n meer spesifieke kode beweeg sonder behoorlike regverdiging. Die regsfirmas wat die aansoek gebring het, voer aan die kode stel meer as 95 persent van regspraktyke vry. Hulle voer ook aan erkenning vir bestaande transformasie inisiatiewe soos beurse en opleidingsprojekte word geskrap.
Die uitspraak skep praktiese onsekerheid vir die regsprofessie. Pienaar vra of firmas nou op die generiese kodes moet terugval en wat met ou graderings en staatstenders gebeur waar ’n sekere gradering vereis word. Hy sê onbekwaamheid en bedrog skep ook onsekerheid en dit lê die ekonomie lam.
Pienaar sê transformasie vind in sy siening nie vinnig genoeg plaas nie, veral wat eienaarskap en topbestuur betref. Tog benadeel ’n gebrekkige proses die vertroue in ’n doelwit wat in beginsel breed ondersteun word. Die minister moet by heroorweging eers die afwyking van die generiese kode regverdig, behoorlike konsultasie verseker en slegs op betroubare inligting staatmaak.