Die Hooggeregshof in Pretoria het die regsektor se BEE kodes tersyde gestel wat die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging in September 2024 gepubliseer het. Die hof het bevind die minister het versuim om sy eie onafhanklike oordeel uit te oefen voordat hy die kodes goedgekeur het. Die saak is na die minister teruggestuur vir heroorweging.
Die regsfirmas wat die aansoek gebring het, het die beginsel van transformasie nie bestry nie, maar die proses aangeval. Hulle voer aan die kodes stel meer as 95 persent van regspraktyke vry en skrap erkenning vir bestaande inisiatiewe soos beurse en opleidingsprojekte. Volgens professor E Goossen skep die uitspraak onsekerheid oor graderings, tenders en oor terugval op generiese kodes.
Vrydag se markte het ná n moeilike week stewig herstel. Die JSE se indeks van alle aandele het 1,3 persent hoër gesluit op 108 525 punte. Die nywerheidsindeks het 1,3 persent gewen, die finansiële indeks 1,2 persent en die hulpbronindeks 1,8 persent.
AngloGold het 4,2 persent bygevoeg, DRD Gold 3,8 persent en Motus en Woolworths elk 3,5 persent. Anglo, Harmony en Naspers het elk 3 persent gewen. Canal Plus het 4,6 persent verloor, terwyl Altech 2,5 persent laer gesluit het.
Die rand het verhandel teen 16,54 teen die Amerikaanse dollar en 18,51 teen die euro. Goud het gestaan op 4 192 dollar per fynons en platinum op 1 688 dollar. Brentolie het 104,70 dollar per vat gekos, terwyl die tienjaarstaatseffek op 8,95 persent verhandel het.
Nerina Visser van ETFSA sê hoë staatseffekopbrengste en inflasie trek in teenoorgestelde rigtings as sterk verwagte Amerikaanse maatskappyresultate. Skeepsvrag op kontrakbasis neem drie tot ses maande om by verbruikers uit te kom en hou plaaslike inflasie onder druk. Sy waarsku beleggers om inkomste vir 12 tot 18 maande in kontant te hou en nader aan die deur te dans.