Chaos het Donderdag in Durban se middestad uitgebreek toe honderde betogers teen immigrante opgeruk het. Minstens een mens is na bewering om 16h00 naby Dr Pixley KaSeme straat geskiet en hospitaal toe gehaas. Sy toestand is nog nie bevestig nie.

GroundUp weet van minstens twee ander mense wat aangerand en beseer is. Verskeie voertuie is aan die brand gesteek en winkels is gevandaliseer en geplunder. Die polisie sê hulle versamel nog verslae oor die voorvalle.

Die groep het by die vlugtelingontvangssentrum van binnelandse sake begin en daarna na n skrootwerf beweeg wat na bewering aan n immigrant behoort. Die besigheid is aan die brand gesteek. Dit was die derde dag dié week wat betogers buite die sentrum saamgetrek het.

Lang rye asielsoekers het buite die sentrum gevorm nadat binnelandse sake verlede Maandag aangekondig het dat alle asielsoekers weer kan aansoek doen na n sluiting van ses jaar vir nuwe aansoeke. Die aankondiging het op n uitspraak van die Konstitusionele Hof in Julie vanjaar gevolg. Jacinta Ngobese-Zuma van March and March het gesê hulle betoog omdat dit hul reg in n demokrasie is solank niemand benadeel word nie.

Ná die sentrum het die groep verdeel. Een groep onder Nkosikhona Ndabandaba, bekend as Phakelumthakathi, het na n IFP saamtrek beweeg terwyl n ander groep rigting Pointweg beweeg en vensters gebreek en winkels geplunder het. GroundUp het meer as 15 gebreekte vensters alleen in Gillespieweg getel.

n Immigrantman is naby Pointweg uit sy winkel gesleep en met n stok oor die kop geslaan. Joernaliste is gedruk, geskop en met stokke gesteek. Die polisie in KwaZulu-Natal sê onbeplande optogte het hulle uitgerek gelaat en dat hulle die gebied Donderdagaand om 18h00 steeds gemonitor het.