Luisteraar Johan van Pretoria wil weet hoe hy geld oor die lang termyn tussen aandele, kontant en effekte moet verdeel terwyl markte wisselvallig is en rentekoerse styg. In RSG Geldsake met Moneyweb het Elke Brink van PSG Wealth en Nerina Visser van ETF SA die vraag beantwoord. Hulle sê bateklasse is nie alternatiewe vir mekaar nie, maar vul mekaar aan deur verskillende siklusse.

Brink sê die balans hang af van lewensfase en doelwitte. Wie afgetree is en inkomste nodig het, hou tipies meer kontant en effekte vir behoeftes van nul tot vier jaar. Geld wat eers jare later nodig is, hoort in groeibates wat inflasie oor tyd kan klop.

Albei kenners waarsku teen pogings om die mark se tydsberekening te voorspel. Sodra jy uitklim, weet jy nie wanneer om terug te keer nie en geen ekonoom of batebestuurder ken daardie dag presies nie. Wie oor twintig jaar net die tien beste dae mis, kan met nagenoeg n kwart van die moontlike waarde eindig, want enkele hersteldae van twee tot drie persent maak n groot verskil.

Te konserwatief wees kos ook geld. Kontant voel veilig terwyl rente styg, maar rente bo die jaarlikse vrystelling word teen die marginale koers belas. Werklike inflasie loop veel hoër as drie tot ses persent, met mediese fondse wat agt tot nege persent styg en winkelpryse wat tans tussen tien en dertig persent klim.

Visser sê beursverhandelde fonds beskryf net waar jy koop, op die beurs of via n platform. n Indeksfonds vorm die goedkoop en deursigtige kern, met daaglikse openbaarmaking volgens JSE reëls, terwyl aktiewe fondse as satelliete vir spesifieke doelwitte dien. Kunsmatige intelligensie word wel gebruik, maar beloftes van twintig dollar wat duisende word, is misleiding en belegging moet vervelig en konsekwent bly.