Supertenkers stroom na die Midde-Ooste om voordeel te trek uit rekordvragte vir olie deur die Straat van Hormuz en dit verdiep die wêreldwye tekort aan skepe. Vloei van ru-olie deur die waterweg het in onlangse weke herstel tot naby vooroorlogse vlakke, ondanks voortgesette aanvalle op skepe. Vervoer van olie vanaf die golf na Oos-Asië kos meer as ses keer soveel as voor die konflik.
Meer as 40% van die wêreldvloot van sowat 850 baie groot ru-olietenkers is nou in die Persiese Golf of binne enkele dae se vaartyd daarvan, volgens Signal Ocean. Die opeenhoping word vererger deur pendelvervoer waar olie in die Golf van Oman of by nuwe punte aan die weskus van Indië na ander skepe oorgeplaas word. Dié skepe is nie bereid om die risiko deur Hormuz te loop nie.
Vragontleder Georgios Sakellariou van Signal Ocean sê die afgelope maande was die beste nóg vir ru-olietenkers. Hy sê die skip tot skip stelsel buite Hormuz is ondoeltreffend en dit rek die aanbod van vaartuie daar en elders. Die getal leë supertenkers op pad na die Atlantiese Oseaan het sedert n maand gelede gehalveer.
Produsente buite die Midde-Ooste, veral in die Amerikas, handhaaf hoë produksievlakke terwyl vloei uit die Persiese Golf herstel. Die tekort aan supertenkers verander die samestelling van die vloot elders en kleiner skepe sonder skaalvoordeel word meer ingespan. Dit stoot vragkoste wêreldwyd op.
Ten minste een supertenker is dié week aangebied om vanaf die Golf van Amerika na Japan te vaar teen n rekordfooi van 82 miljoen dollar, of meer as 40 dollar per vat. Dit is n styging van meer as 50% in drie weke. Vir die tog van die Persiese Golf na Oos-Asië het tariewe Woensdag byna 1,4 miljoen dollar per dag bereik, n styging van byna 540% sedert voor die oorlog.