Die goudprys van meer as 4 000 dollar per ons, tans sowat 4 200 dollar, het ou Suid-Afrikaanse goudbates weer ekonomies lewensvatbaar gemaak. Navorsing toon die land se goudreserwes het oor die afgelope drie jaar van 68 miljoen tot 77 miljoen onse gegroei. Hoër pryse, moderne herwinningstegnologie en bestaande infrastruktuur stel maatskappye in staat om ou skagte en mynhope opnuut te ontgin.
Portefeuljebestuurder Kobus Nel van Stanlib sê die huidige prysvlak gee sowat 70 000 rand per ons, of sowat 2,2 miljoen rand per kilogram. Dit skep geleenthede wat vier of vyf jaar gelede nie bestaan het nie. Nuwe tegnologiese metodes het ook die doeltreffendheid van ontginning verbeter.
Kenners meen sowat 30 miljoen onse herwinbare goud lê in mynhope bo die grond. Dit is erts wat vroeër uit skagte gehaal en bogronds gestort is. Die volume kan gelykstaande wees aan sowat ses wêreldgehalte myn bates.
In die verlede is sowat 30% van die goud uit herverwerkte hope met die sianiedproses herwin. Nuwe navorsing toon bakteriële of mikrobiese voorbehandeling kan herwinning tot 60% tot 70% verhoog. Die beter herwinning verbeter winsgewendheid aansienlik.
Gevestigde maatskappye soos Harmony Gold, DRDGOLD en Pan African Resources wys reeds dat ou hope teen moderne pryse winsgewend verwerk kan word. Terselfdertyd bly omgewingsaanspreeklikheid groot, want suur mynwater en giftige residu's moet ná herverwerking behandel word. Maatskappye het ook elektrisiteit, water en swaar vervoer nodig.
Onwettige kleinskaalse myners, bekend as zama-zamas, kompliseer nuwe projekte – daar is na raming sowat 6 000 verlate myne en gebiede. Stadige toekenning van mineraalregte deur die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie skep verdere onsekerheid, al bly die ekonomiese aansporing sterk.