Airlink verwag ’n wesenlike styging in inkomste in die huidige boekjaar namate nuwe Embraer-stralers uitbreiding oor Afrika moontlik maak. Die Johannesburgse streeklugdiens wil sy netwerk met sowat 10 persent uitbrei, met inbegrip van nog twee lande. Dit het hoofuitvoerende beampte De Villiers Engelbrecht in ’n onderhoud gesê.
Verlede week het die lugdiens sy eerste vlug na Mauritius geloods, asook ’n nuwe diens tussen Kaapstad en Zanzibar. Daarmee bedien Airlink nou 67 bestemmings in 16 lande. Engelbrecht beskryf dit as waarskynlik die ambisieusste jaar vir inkomstegroei in die maatskappy se geskiedenis.
Qatar Airways besit ’n belang van 25 persent in Airlink. In die boekjaar tot Augustus het Airlink sowat 4,5 miljoen passasiers vervoer, wat 5,5 persent groei teenoor die vorige tydperk verteenwoordig. Engelbrecht sê die vraag in die streeksmark is bemoedigend en hy sien uit na ’n sterk spitsseisoen.
Volgens Engelbrecht is daar te veel geleenthede op die vasteland en die lugdiens kyk na uitbreiding in Wes-, Oos- en Sentraal-Afrika. Hy sê die groeigeleenthede voor hulle sal hulle vir die volgende twee jaar besig hou. Syfers oor die verwagte inkomste wou hy nie bekend maak nie.
Airlink bedryf ’n vloot van meer as 70 stralers, alles Embraers. Vanjaar het hy reeds vier vliegtuie met besigheids- en ekonomiese klas ontvang en nog drie word teen Julie verwag. In 2025 het hy ook 10 modelle van die 195-E2 aangeskaf, met die laaste aflewerings teen middel 2027.