Die vyfde Saai Karoo Landboufees vind op 30 en 31 Oktober 2026 op die Laingsburg Sportgronde plaas. Die fees bring boere, gemeenskappe en die jeug byeen vir twee dae van kennis, inspirasie en egte Karoo-gasvryheid. Dit is reeds ’n gevestigde hoogtepunt op die streek se landboukalender.

Vrydag begin met ’n BKB-veeveiling en ’n jeugprogram van die Departement Landbou, Wes-Kaap. Om 14:00 volg ’n paneelbespreking met dr. Ivan Meyer, Grant Naudé van SA Merino en dr. Theo de Jager van Saai, onder leiding van Heindrich Wyngaard. Die Kaapse Forum bied ook ’n bespreking oor vrouemishandeling aan.

Vrydagaand sluit af met die Mej. Landboukompetisie op die hoofarena en optredes deur Dani Villè en Wynand en Chereè. Saterdag bied ’n pretloop, sokkertoernooi, kermis en groentemark, asook die Santam Karoo Kole Koning-braaikompetisie en die ATKV-talentkompetisie.

Die jeug staan albei dae sentraal in die interskole patent en modellekompetisie wat deur Hollard geborg word. Oakdale, Boland Landbou en Augsburg Landbou neem deel, saam met die Hoër Tegniese Skool op Worcester. Die uitstalling wys leerders se kreatiewe idees en tegniese ontwerpe.

Tradisie bly ’n trekpleister met die historiese wolbaaldrakompetisie wat in 1963 met Francois le Roux as eerste wenner begin het. Die kompetisie is drie jaar gelede weer by die fees ingestel en ’n moontlike nasionale kompetisie word ondersoek. Saterdag bied ook ’n K9-vertoning, ’n sterkmankompetisie en ’n damesfunksie om 12:00 in die Stephanus Greeffsaal.

Feesgangers kan ook Rico ontmoet, die skaap wat sewe jaar alleen in die Moordenaarskaroo oorleef het en met ’n 30,7 kg-woljas ’n Suid-Afrikaanse rekord opgestel het. Die dag sluit af met musiek van onder meer Dassie en Pietman Geldenhuys. Die naweek eindig op Sondag 1 November met ’n dankdiens.