Mynbou en materiaalvervaardiger Afrimat beleef sy moeilikste halfjaar sedert sy notering in 2006. Die groep verwag vir die ses maande tot 31 Augustus 2026 skerp laer tussentydse verdienste namate geopolitieke skeepsontwrigting, ’n sterker rand en swakker vraag na ystererts wins druk.

Volgens ’n handelsverklaring op Sens sal die verlies per hoofaandeel tussen 60 sent en 55 sent wees, teenoor hoofverdienste van 101,9 sent per aandeel ’n jaar gelede. Verdienste per aandeel sal na verwagting met 95% tot 100% daal tot tussen 0,1 sent en 5,2 sent, af van 102,7 sent.

Die verskil tussen die twee syfers spruit uit winste op afstotings wat die Mededingingskommissie vereis het asook uit die verkoop van niekernbates. Ystererts was die grootste drukpunt oor die halfjaar.

Uitvoerverdienste is geknou deur ’n sterker rand en ’n styging van 49,1% in skeepskoste na ontwrigting wat met die Iran konflik verband hou. Gemiddelde mynhek inkomste per ton het met 16,4% gedaal. Binnelandse ysterertsvolumes het met 36,5% gedaal nadat ’n plaaslike klant in die eerste kwartaal eers op bestaande voorraad geteer het, al het volumes in die tweede kwartaal herstel. Tydelike stilstand by ferrolegeringsmelters het ook vraag na antrasiet verswak.

Daarteenoor het aggregaat en vliegas marges verbreed en sterk bedryfswinsgroei gelewer danksy doeltreffendheid, bemarking en klientebehoud. Die besigheid het tussen boekjaar 2022 en boekjaar 2026 bedryfswins met ’n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 36,3% laat groei en ’n bedryfsmarge van 18% in boekjaar 2026 behaal, wat in die verslagtydperk verder uitgebrei het.

Die oorgeneemde sementbedryf het vroeg in die tydperk steeds ’n bedryfsverlies aangeteken ondanks belegging in ingenieurswese, bestuur en herstelwerk. Afrimat het skuld afgebou deur niekern baksteen en blokbesighede te verkoop, voorgeskrewe afstotings af te handel en oortollige ysterertsvoorraad te verkoop. Die skuld tot ekwiteit verhouding is tot onder 50% verlaag, met ’n teiken van 25%.