Die Britse geldoorplasinggroep Wise Group wil tot Suid-Afrika toetree en werf ’n landbestuurder in Johannesburg. Die groep met ’n markwaarde van sowat 11,7 miljard dollar of R194 miljard het voorwaardelike goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Reserwebank gekry om sekere dienste hier aan te bied. Die groep is op die Londense Aandelebeurs genoteer met ’n sekondêre notering op Nasdaq.

Volgens ’n posadvertensie moet die nuwe leier die regulatoriese en lisensieprosesse bestuur, geleenthede vir die produkte in die streek bepaal en die uitbreidingstrategie uitvoer. Wise het nie kommentaar oor die pos gelewer nie.

Nadia Costanzo, direkteur vir bankwese en uitbreiding in Latyns-Amerika en die Midde-Ooste en Afrika, sê die goedkeuring bring Suid-Afrikaners nader aan ’n vinniger, goedkoper en deursigtiger manier om geld oor grense te stuur. Dit is die eerste sulke goedkeuring vir die groep op die vasteland.

In Desember het Wise bevestig dat die sentrale bank voorwaardelik ’n lisensie goedgekeur het wat reisverwante transaksies dek. Dit sluit ook die jaarlikse voorgeskrewe toelae in wat inwoners sonder ’n belastingklaringsertifikaat oorsee mag bestee, asook oorbetalingsdienste.

Die aanstelling volg op hervorming van die Nasionale Betalingstelsel deur die Reserwebank. Niebank-finansiële maatskappye en fintechmaatskappye kan nou regstreeks toegang tot betaalinfrastruktuur kry om vernuwing en mededinging te versterk.

Terselfdertyd betree versekeraars, kleinhandelaars en telekommaatskappye bankdienste om bestaande kliënteverhoudings in ’n stadige ekonomie te laat groei. Wise se platform, wat banke en besighede toelaat om sy infrastruktuur vir oorbetalings te gebruik, het onlangs met Capitec saamgewerk om die bank se internasionale betalingsaanbod te ondersteun.