Die mark vir opgeleide skaaphonde groei wêreldwyd, met werkende honde wat op veilings vir tienduisende dollar verkoop word. Suid-Afrika staan sterk in hierdie nis, met ’n goeie reputasie vir werkvermoë onder oorsese kopers en telers.

Die Suid-Afrikaanse skaaphondvereniging is in 1961 gestig en is klein vergeleke met die vereniging in die Verenigde Koninkryk. Die internasionale liggaam, die International Sheep Dog Society, is die grootste registrasieowerheid vir werkende skaaphonde ter wêreld. Die meeste Europese lande registreer hul honde by dié liggaam.

Suid-Afrika het sy eie registrasieprogram wat deur die internasionale liggaam aanvaar word, insluitend stambome en teelrekords. Deur die jare het bekende Britse beoordelaars die land besoek en Suid-Afrika het honde uit Brittanje ingevoer. Die grondslag van plaaslike teellyne kom dus grootliks uit Brittanje.

Vroeër kon Suid-Afrika nie aan oorsese proewe deelneem nie omdat Afrika hondsdolheid het en Brittanje vry daarvan was. Die reëls het in 2012 verander en na ’n streng gesondheidsproses mag honde nou reis. Suid-Afrika neem sedert 2014 aan die wêreldkompetisie deel wat elke drie jaar aangebied word, behalwe in 2020 tydens die Covid-pandemie.

Plaaslik bly die hond onmisbaar ten spyte van nuwe tegnologie soos hommeltuie. ’n Hommeltuig kan skape aanjaag, maar vervang nie die presisie en instink van ’n goeie hond nie. Volgens die vereniging sê boere wat met honde werk dat hulle nie daarsonder kan klaarkom nie.

Die uitdaging is opleiding, want ’n skaaphond is nie ’n masjien wat gekoop en aangeskakel word nie. Grootmaak en afrigting verg tyd, kennis en daaglikse werk. Min eienaars is bereid om daardie moeite te doen, maar dié wat dit doen wen ’n betroubare werker op die plaas.