Die Gautengse provinsiale regering het ’n digitale stelsel vir die regulering van openbare vervoer bekendgestel om aansoeke om bedryfslisensies vinniger te verwerk. Die stelsel moet veral e-hailingbestuurders van platforms soos Uber en Bolt help om hul bedryf te wettig.

LUR vir vervoer Kedibone Diale-Tlabela sê haar departement gee voorkeur aan die verwerking van lisensies vir e-hailingbestuurders. “E-hailingoperateurs moet nou na vore kom om aansoek te doen en hulself te regulariseer,” het sy gesê. Sy sê onwettige openbare vervoer moet uitgeroei word, onder meer ter wille van veiligheid en konflik tussen die taxibedryf en e-hailingdienste.

Volgens EWN kan die nuwe stelsel help om ’n agterstand in die provinsie uit te wis wat tot in 2009 terugdateer. Diale-Tlabela sê die stelsel is oor ses tot agt maande getoets. Terugvoer van e-hailingoperateurs, die taxibedryf, busoperateurs, munisipaliteite en wetstoepassing is in ag geneem.

Sy sê die platform is ontwerp om die lisensiestelsel te moderniseer, nakoming te verbeter en aansoeke vinniger af te handel. “Hierdie is ’n stelsel wat ons glo die agterstand sal uitwis. Niemand sal meer ’n openbare diens met ’n onwettige kwitansie lewer nie,” het sy gesê.

Die gewysigde Nasionale Wet op Landvervoer is in September 2025 amptelik ingestel en vereis dat e-hailingmaatskappye soos Bolt en Uber hul platforms registreer. Individuele bestuurders moet hul eie bedryfslisensie aanvra. Die lisensie bepaal die geografiese gebied waarbinne ’n bestuurder passasiers teen betaling mag vervoer.

’n Bestuurder met ’n lisensie vir Johannesburg mag byvoorbeeld ’n rit na ’n ander provinsie of stad aanvaar, maar moet na sy gebied terugkeer voordat hy ’n nuwe passasier kan oplaai. Bestuurders moet ook oor ’n professionele bestuurspermit beskik, ’n kriminele agtergrondkontrole slaag en voertuie met paniekknoppies vir bestuurder en kliënt toegerus wees. Voertuie moet ook ’n teken dra wat aandui dat hulle vir ’n e-hailingdiens werk.