Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, Ian Cameron, het in ’n onderhoud met Chris Steyn gesê hy begin ’n veldtog van 30 dae om veroordeelde seksmisdadigers se name en foto’s bekend te maak. Hy sê die stap volg omdat die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders nie openbaar gemaak word nie.

Een van die oortreders is Nkosinathi Phakathi. Hy is aan negentig aanklagte van verkragting skuldig bevind.

Cameron het ook gereageer op die nuus dat ’n nabye familielid van die afgedankte adjunkhoof van Misdaadintelligensie, generaal Feroz Khan, gisteraand op die R21 in Boksburg doodgeskiet is. Hy sê die voorval pas by ’n patroon van bloedvergieting rondom persone wat by die Madlanga-kommissie genoem is of moes getuig. Hy beskryf die situasie as ’n diep en donker poel van onderwêreldse verwikkelinge.

Oor oudpolisieminister Bheki Cele het Cameron gesê ’n groot deel van die huidige krisis het tydens Cele se termyn as minister van polisie ontstaan. Cele kan moontlik strafregtelik vervolg word oor sy verhouding met die tenderentrepreneur Cat Matlala. Cameron sê daar is geen geheim daaroor dat aanstellings in daardie tyd omstrede was nie.

Volgens Cameron is senior poste en selfs middelbestuurposte in die Suid-Afrikaanse Polisiediens later gegee aan mense wat Cele glo verplig gevoel het om aan te stel omdat hy geweet het hy keer nie as minister terug nie. Hy sê dié besluite het die diens verswak en bygedra tot die probleme wat nou ondersoek word. Die onderhoud is op 6 Oktober op BizNews Radio uitgesaai.